16 April 2020 - Jongste regulasie vir Inperking

Apr 16, 2020
16 April 2020 - Jongste regulasie vir Inperking


Inperking: Hier is jongste wysigings

Deur Llewellyn Prince 16 April 2020 17:21 

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die jongste wysigings aan die regulasies vir res van die staat van inperking Donderdag aangekondig.

Dít behels onder meer dat:

* die vervoer of verkoop van alkohol vir menslike verbruik steeds verbied word, maar dat alkohol wat vir kommersiële doeleindes soos in ontsmettingsmiddels en ander verwante produkte gebruik word, wel vervoer mag word;

* noodsaaklike goedere wat per see ingevoer word nie soos voorheen eers by hawens ontsmet moet word voordat dit versprei word nie omdat die koronavirus nie lang see-reise oorleef nie;

* nie-noodsaaklike goedere wat in hawens opeenhoop omdat dit nie uitgevoer kon word nie, kan nou uitgevoer word om plek in hawens te maak vir noodsaaklike goedere;

* bestaande streng regulasies geld steeds wat betref begrafnisse, maar diegene wat begrafnisse moet bywoon voordat ’n doodsertifikaat uitgereik kan word, kan nou beëdigde verklarings van die polisie of ’n landdros bekom as bewys om so ’n begrafnis by te woon;

* kinders van geskeide ouers wat toesig-regte deel en tussen die twee ouers moet rondbeweeg, moet ’n hofbevel of dokumente van die gesinsadvokaat daarvoor hê, maar kan in die afwesigheid daarvan ’n geboortesertifikaat toon wat albei ouers met die kind verbind;

* raffinaderye weer toegelaat word om op volle kapasiteit bedryf te word om te verseker dat daar genoeg brandstof is;

* alle diepmyne toegelaat word om op 50% van hul kapasiteit te begin myn omdat dit ’n gevaar inhou as dit vir lank onaktief is. Streng voorwaardes geld egter daarvoor soos dat mynwerkers wat terugkeer aan siftings- en toetsprosesse vir die koronavirus onderwerp word, terwyl myne self kwarantynfasiliteite vir werkers wat besmet is, moet skep en hulle moet ook vervoer vir hul Suid-Afrikaanse werknemers reël. Myne sal toegelaat word om stelselmatig tot volle kapasiteit terug te keer;

* ondernemings wat komponente, herstelwerk of instandhoudingswerk vir noodsaaklike dienste soos water- of elektrisiteitsverskaffing of aan hospitale verskaf, kan weer vir sake oopmaak;

* ondernemings wat voertuie vir noodsaaklike dienste herstel, kan heropen;

* loodgieters- of elektrisiënondernemings kan heropen om gebarste waterpype of elektrisiteitsprobleme in private huishoudings te herstel;

* bestaansvissers in klein kusdorpies wat hul vis verkoop, kan met hul bedrywighede voortgaan; maar die verkoop van gekookte kos word steeds nie toegelaat word;

* inbelsentrums wat kleinhandelaars se rekening-afdelings bedien, kan oopmaak vir sake;

* amptenare van die Verkiesingskommissie kan rondbeweeg; en

* ondernemings wat ondersteunings- en hersteldienste rondom inligtings- en kommunikasie tegnologie vir huishoudings en noodsaaklike dienste lewer, kan begin sake doen.

Volgens Dlamini-Zuma bly die res van die aanvanklike regulasies van die staat van inperking steeds in plek en sal weekliks aangepas word soos die staat van inperking stelselmatig verslap word.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het Donderdag bevestig dat die verbod op die verkoop van sigarette steeds in plek bly.

https://www.netwerk24.com/Nuus/Gesondheid/inperking-hier-is-jongste-wysigings-20200416